MY KINDERJARE OP KLIPPIES DORP HESTER BASSON
Hester Basson is n Saldanhabaaier in murg en bloed. Sy het op die 11 de Oktober 2014 haar 84 ste verjaarsdag gevier. Sy is op 11 Oktober 1929 gebore. Vandag noem ken almal haar as “Aunt Tos”. Sy is gebore op Klippiesdorp en het ook hier groot geword. Klipies dorp is n gemeenskaps naam. Meeste van die mense wat daar gebly het het vir die canning fabriek gewerk. Die mense wat daar gebly het het die die plek so genoem. Sy vertel dat haar ouma haar groot gemaak het. Selfs baie van haar vriende se oumas het hul groot gemaak omdat hulle maar arm was en die ma’s dan ook op ander plekke moes gaan werk soek. Vandag staan Klippies dorp bekend as Hoedjieskop. Sy vertel ook hoe hulle gedurende 1961 of 62 moes trek na White City. Hulle wou nie trek nie want die huisies was maar klein maar hulle moes maar noodgedwonge trek.
Sy vertel dat sy nie eintlik skool gegaan het nie. Sy is na Standard een uit die skool en dus kan sy nie lees of skryf nie. En op vandag se ouderdom raak die “onthou” partykeer ook weg.
Sy vertel hoe sy en van haar vriendinne as 10 jariges by die Saldanha Bay Canning Company begin “casual” het. Sy vertel van hoe hulle snoeke, makriele en ander vis geskrop het en ook hoe hulle kreef verpak het in die blikkies. Daar was nie n wekker om hul wakker te maak nie so hulle het dus maar met die kraai van die haan wakker geword en dan opgestaan. Sy onthou hou haar ouma hulle aangejaag het om klaar te maak want die serene van die canning fabriek gaan nou skree en dan is hulle laat. Van hul huis teen die koppie kon hulle sien hoe die skuite inkom wat swaar gelaai was met vis. Sodra die skuite vasmaak moes hulle daar wees om te begin werk.
Die werk het behels van die skoonmaak van die vis tot die verpakking. N masjien het die vis wat in die blikkies gaan se kop en stert afgesny en hulle moes dit in blikkies pak. So het jy n half pond en n pond blikkie gekry. Hulle moes 48 blikkies en op elke tray sit. Die blikkies was vir die makriel sardyn en kreef. Elke blikkie moes eers n papiertjie onder inkry voor die vis netjies in gesit was. Elke kreefstert se dermpie moes ook eers uit gehaal word en gewas word voordat dit in die blikkie verpak was. Dit was harde werk en het haar hande verniel. Sy wys hoe krom haar hande lyk van jare se werk met die blikkies. Soms het die bloed daar uit geloop. Hulle het hul hande met kersvet gesmeer en in lappe toegedraai wat met parafien op. Daar was nie geld om n dokter te sien nie en hulle moes hul self behandel om gesond te bly.
Sy vertel dat hulle amper vir niks gewerk het nie. Hulle het net n oulappie gekry op die hand oor naweke. So 5 oulappe (pennies). Dit was ou die Engelse geld waarmee hulle betaal was. Die pennies, tiekkies en shielings. Op 16 jarige ouderdom kon hulle permanent by die fabriek aangestel word, maar die base van die fabriek die Silvermans het hulle nooit aangeskryf nie. Want volgens die eienaars moes hulle gevra het om permanent aangestel te word en hulle het dit nooit geweet nie. Hulle moes maar tevrede wees want die lewe was swaar en hulle kon darem ietsie koop om te eet van die oulap wat hulle gekry het. Sy vertel dat sy 62 jaar vir die Silvermans by die fabriek gewerk het. Sy vertel ook hoe die getroude vrouens hulle kinders saam gevat het werk toe. Die ouer kinders het na die kleintjies omgesien terwyl die ma’s werk en as dit uit val tyd is, party laat aande, het hulle die kinders wat al geslaap het opgetel om huistoe te gaan.
Sy vertel dat die fabriek gebou was van hout en sink en by tye baie koud binne was.
Ongeveer twee jaar voor die fabriek sy deure gesluit het het sy opgehou werk. Sy het solank as moontlik gewerk want daar was nie voorsiening gemaak vir n pensioen nie. Hulle het ons nie goed behandel nie.
Sy vertel die Silverman familie. Hoe Robert Silverman as jong man hulle kom kry het kaalvoet werk vir hulle in die fabriek. Hy was toe nog nie getroud nie. Sy vertel ook hoe geskok hulle was toe hulle verneem van Robert se dood in die Weslander. Robert n grootmaak kind van Jackie Silverman het het eers na skool gaan leer en toe by die weermag aangesluit en later by die fabriek kom werk het.
Ek wys haar n foto van hoe die baai gelyk het. Opgewonde wys sy vir my die “Canning” fabriek op die foto. Ook wys sy vir my die winkel van mnre Jaffe en Kaasnags. Hulle was twee Jode wat in vis handel gedryf het. Hulle winkel was op die rand van die water. Ook het hulle hulle eie jetty gehad en bakkies waarmee hulle vis gevang het. Die vis is dan elke aand as vars vis verkoop end ie wat oorbly is dan gesout om later as soutvis verkoop te word.
Sy vertel dat sy goed kan onthou hoe die oorlogskepe die Transvaal en Natal in die baai gele het gedurende die oorlogs tyd.
Sy vertel van die klip gebou in die dorp. Dit was die algemene handelaar waar jy enige iets kon koop.
Sy vertel van die Vingerhoed huisie. Die klein huisie vertel sy was in haar kinderjare n huis en later verskeie winkels onderandere later die melkery van die Tolkens. Hulle het so 2 beeste gehad wat hulle gekoop het om die melk te verkoop.
Sy vertel van nog n klein plekkie nie ver van Klippies dorp nie wat hulle Kanariedorp genoem het. Niemand praat meer oor die plek nie. Dit was die area rondom die Anglikaanse kerk in die dorp.
N interresante feit is dat die mense in die vroeer jare n plek wat uit 5 tot huise bestaan het n dorp genoem. So het Saldanha 5 dorpe gehad, Parkersdorp, Cemetary View, Kanariedorp, Klippiesdorp en Saldanha. In die latere jare is White City ook gestig. Hierdie klein dorpies het oor die jare uit gebrei en in mekaar begin groei en almal ken vandag net die groter Saldanha soos dit vandag lyk.