Doc’s Cave

Deur my navorsing oor die geskiedenis van Saldanha het ek verskeie stories ondek. Hier deel ek n paar van die stories.

SALDANHA HISTORY

Doc’s Cave/ Doctors Hole 

Baie mense weet nie eers van die plek nie, vir die wat daarvan weet, staan dit bekend as ”Doctors Hole” of “Doc’s Cave”. En dit gaan oor n man of dalk n dokter wat hier in die grot gewoon het. Wel ”Doctors Hole” of “Doc’s Cave” wie weet, dalk was die man se naam Doc en dit het niks met n dokter te doen nie of dalk was hy n dokter. Verskillende afleidings was al gemaak en dit is waarom daar n paar stories omtrent hierdie plek is, want sien die mense met die regte storie is al lank nie meer met ons nie. Die wat van die plek weet, wonder wat die ware storie is wat hier in die 1800’s in ons baai afgespeel het.

Die een storie is dat daar n Ierse man gedurende 1845 in die grot woonagtig was maar niemand het hom geken nie, hulle het net geweet van hom. Dit was gedurende die “White Gold rush”. “White Gold” was die guano (voel mis) wat in daardie tyd van Malgas eiland ge-oes was. Almal wou n geldjie maak, maar hierdie guano het tot onmin gelei waar mense beseer was en ook siek geword het. So word dit dan vertel dat hierdie man wat in die grot gewoon het, verskeie goed verkoop het en homself “Doc” genoem het. Die mense het aangeneem dat hy moontlik n dokter kon wees, want onder die goedere wat hy verkoop het, was ook medisyne. Sommige beweer dat dit bloot alkohol was wat hy verkoop het.

Maar dan is daar die storie van Ton Muller. Haar nooiensvan was Otto. Sy  vertel dat as die jong mense beter na die ou mense se stories geluister het, sou hulle vandag baie meer geweet het van ons geskiedenis.

Sy vertel dat haar mense reeds al van outyds in Saldanha nes geskop het, maar met die tyd en ouderdom het hulle ook baie van geskiedenis vergeet. Sy vertel dat haar Groot ouma hier in Saldanha in 1837 gebore was, haar Oupa in 1864 en haar moeder in 1898. Hulle is dus ou “stock”.  Sy vertel dat tussen 1870 en 1880 wou die regering Saldanha gebruik om n kwarantyn kamp te vestig vir mense wat pokke gehad het.  Wat sy ook kan onthou was die storie wat haar ma hulle vertel het en dit was dat daar n Britse skip met siek bemanning aan boord (pokke) was en hulle is geweier om in Tafelbaai anker te kom gooi uit vrees vir n pokke epidemie. Omdat Saldanha al daardie tyd as n veilige hawe beskou was, was die skip daarheen gestuur.

Daar het hulle anker gegooi en so is die siekes saam met die skeepsdokter dan met roeibootjies na die land geroei. Vandaar is hulle begelei deur die skeepsdokter na n grot nie ver van die wal nie, vir behandeling. Kos en klere is gereeld naby die grot neergesit deur die plaaslike boere in die omgewing aangesien die skip etlike maande voor anker gele het.

Almal het op die einde oorleef en na baie maande kon die skip hul tog terug aanpak huistoe. Nadat die skip geseil het, het van die nuuskierige mense ondersoek gaan instel na die grot.  

Ton onthou goed dat haar ma haar vertel het dat die dak van die grot swart gerook was van die vure wat daar binne gemaak was. Sy vertel ook dat haar ouma baie van die goed wat agter gelaat was self gesien het. Daar was byvoorbeeld mooi koper en yster implemente wat deur sparre vasgedruk was in die dak en teen die muur. Daar was ook goed soos potlepels, silwer messe en vurke en vuurmaak gereedskap en nog vele meer.

Die ou mense van daardie tyd wou dit nie verwyder nie uit vrees vir kieme en later het hulle ook gereken dat dit geskiedenis was en so moet behoue bly. Maar met die tyd het die inheemse bevolking egter alles weggedra.

Vandag is net die grot nog daar en die tekens van die swart gerookte dak. En so met die verloop van tyd weet niemand meer op die stryd van oorlewing wat daar plaasgevind het nie.

Doctors hole of Doc’s cave soos dit vandag lyk.

_dsc0007    _dsc0004          

 

KLIPVLEI

Agter Klipvlei was die plaas wat vandag die SAS SALDANHA Natuur Reservaat is.

MY LEWE OP KLIPVLEI SOOS VERTEL DEUR JAMES SADIE

_dsc0972    agter-klipvlei    voor-klipvlei begrafnis-oupa-hermanus-sadie    copy-of-klipvlei1_1

 Ek, Jacobus Nicolaas Sadie (James) en my tweelingsuster, Maria Petronella naby Saldanha. Die doopfoto’s in my besit is almal by die ou plaashuis geneem. Dis nou die huis aan die regterkant as ’n mens vanaf die voorkant van die huis in die rigting van die koppie kyk. Van dié ou plaashuis kan ek nie veel onthou nie. My ouma, dis nou my pa se ma, het in die plaashuis aan die linkerkant gewoon. As my geheue my nie in die steek laat nie het oom Baas, my pa se oudste broer, en tant Let, met hulle vier dogters saam met my ouma in daardie huis gewoon.

Ek skat dat ek tussen drie en vier jaar oud moes wees toe ouma na die toringhuisie (Vingerhoedjie) in Saldanha getrek het. Ons het toe oorgetrek na die linkerkantse huis. Oom Jan en tant Mienie Rabe met hulle twee seuns, Willem, en die jonger Manus, het in die ou huis ingetrek. Ek kan onthou hoe ek en Manus by die ashoop tussen die twee huise met ons karretjies gespeel het. Die ashoop was gebruik om die as van die koolstowe weg te gooi Die plaas was deel van die oorspronklike plaas Kreefbaai in Wyk St. Helenabaai en sovêr ek kon vasstel het dit vroeër aan ene P. J. Van der Westhuizen behoort. In die 1878 kieserslys was dit reeds bekend as Klipvlei en die eiendom van my oupagrootjie Frederick Albertus Sadie. Ek is nie seker of hy in die agterste plaashuis (Agter Klipvlei) of in die regterkantse voorste huis gebly het nie. Die linkerkantse huis het toe nog nie bestaan nie. Na sy dood op 9 September 1903 het sy oudste seun, ook Frederik Albertus moontlik op Agter-Klipvlei geboer. Volgens wat ek van pa gehoor het, het my oupa se tweelingbroer, Albertus Jacobus, op die voorste plaas geboer en oupa Hermanus Izak Johannes het ‘n kalkbrandery op Noordbaai bedryf. Die kalk is met ‘n “Kotter” by Noordbaai opgelaai en na Kaapstad geneem. Die ander broer, Coenraad Hendrik was ook op die plaas maar ek weet nie watter rol hy gespeel het nie. Ek weet wel dat hy ook op die plaas aan ‘n hartaanval oorlede is en ook daar begrawe is. Die ander broer Frans Hendrik het op Kalkrug geboer. Ek is nie seker waar hy begrawe is nie. Ek het dokumente in die Kaapse argiewe opgespoor waarin my Oupa Hermanus, sy broer Coenraad en ander broer Frans in Desember 1908 gesamentlik ‘n verband geregistreer het vir die plase Klipvlei Subdevisie1, Klipvlei Subdevisie 2 en Kalkrug. Frans het op Kalkrug gebly. Volgens my pa het Oupa die plaashuis aan die linkerkant op die foto laat bou, moontlik kort na die registrasie van die verband. Vir daardie jare was die huis nogal modern gebou, met mooi houtkaste in die kombuis. Die soldertrap was in die kombuis, ook die trap gebou. Die houtbalke was balke van die soldervloer was baie mooi en die veertien vertrek

huis het selfs plankvloere gehad, behalwe vir die kombuis. My oupa het die boerdery oorgeneem nadat sy broer oorlede is.  Wanneer presies hulle die plaas verloor het weet ek nie. Hulle het dit daarna by SANTAM gehuur. Volgens my pa het Oupa die plaas verloor nadat hy vir iemand borg geteken het. Na Oupa se dood in 1930 moes my pa met die boerdery voortgaan. Daar is hoofsaaklik geboer met graan, beeste en skape. Die saailande het vanaf die see gestrek tot teen die hange van Noordbaai se kop verby Noordbaai tot agter by Baviaansberg.

Daardie jare (dertigers) was boerdery harde werk. Daar was nie trekkers nie en daar is van spanne muile (aan Weskus bekend as esels), met twee perde voor om hulle te lei, gebruik gemaak om die plaasimplemente te trek. Die kraalmis is met bokwaens na die landerye aangery en in hopies afgelaai en daarna met vurke versprei om die hele saailand te dek. Dit is dan met ’n vyfskaar ploeg ingeploeg. Die boer moes self agter die ploegstert loop, met ’n touleier voor. Met saaityd is die saad is in ’n saaisak oor die skouer gedra terwyl die boer die saad egalig oor die land gestrooi het. Daarna moes die hele land ge-eg word. Oestyd moes die snymasjien, wat ook deur ’n span muile getrek word, gebruik word om die graan te sny, van vroegmôre tot die aand. Gelukkig het hulle darem al selfbinders gehad wat die graan in gerwe gebind het. ’n Span moes agternaloop en die gerwe in hope pak sodat die waens, met hoë lere voor en agter om ’n hoë vrag te laai, dit later kon oplaai en na ’n sentrale punt naby die plaashuis ry om

in miede gepak te word. Later is dit met ’n dorsmasjien gedors. Daar was twee grondpaadjies na Saldanha, een reg deur die panne, verby die Kanaries (lokasie). Die panne is fyn wit kleierige grond wat in laagliggende dele gevorm is en was nie geskik vir boerdery nie. Die eerste blanke persoon op hierdie pad na die dorp, se huis was dié van oom Jannie Coetzee, net onder Baviaanskop naby die dorpie. As jy vandaar met die grondpaadjie links van die kop aangehou het, het dit by die ou Hoedjiesbaai hotel by die hoofstraat aangesluit. Die ander paadjie na die dorpie het links van die plaashuise in die rigting van Kalkrug (die plaashuis is onlangs afgebreek) verbygegaan, waarvandaan dit net regs van die stasie verbygeloop het Ons het van Kalkrug af met ’n voetpaadjie kortpad deur ’n spoorweg-swaaihek, wat met ’n ketting en ’n paal kontrepsie outomaties toemaak, oor die treinspoor na die skool geloop. Die lyndraad wat die twee gedeeltes van Klipvlei geskei het, het tussen die twee plaashuise deurgeloop met ’n hek naby die perdestalle en skaapkraal. Die skuur waar die beeste gemelk is en die waenhuis waarin die snymasjien, ploeë, perdekar, waterkar, skotskar en ander plaasimplemente gestoor is, was vêrder na links as jy na die plaashuis kyk. Die begraafplaas was ook aan daardie kant van die plaashuise, feitlik in lyn met die plaashuise. Nadat ons die plaas, wat deur die weermag oorgeneem is, aan die einde van 1942 verlaat het, is al die geboue afgebreek. Die perdestalle was in die pad van die treinspoor wat na ’n magasyn aangelê is. Die spoorlyn was reeds in aanbou terwyl ons daar gewoon het en het voor die stalle tot stilstand gekom totdat ons die plaas verlaat het. Die Plaaskerkhof is byna in 1948 platgestoot toe die Militêre owerhede ’n pad daardeur wou bou. Iemand het my pa daarvan in kennis gestel en hy het dadelik ’n telegram aan die destydse minister van Verdediging, F. C. Erasmus, gestuur om dit onder sy aandag te bring. Hy het opdrag gegee dat die werk aan die pad onmiddellik gestaak word en ook ’n onderneming gegee dat die Departement Publieke Werke (D.P.W) ’n draadheining om die kerkhof sou span en die kerkhof in stand sal hou. Toe ek dit laas besoek het (’n paar jaar gelede) het hulle nog hulle woord gestand gedoen, maar ongelukkig drie grafstene heeltemal wit geverf, met die gevolg dat dit nie meer moontlik is om die besonderhede op die stene te lees nie. Daar is ’n paar grafte wat met kalkklippe toegebou is maar daar is geen inskripsies om aan te toon wie daar begrawe is nie.

Ek vermoed dat die dubbelgraf dié van Oupa se broer Coenraad en sy vrou is. Dit is nogal jammer dat my ouma en oupa nie in dieselfde kerkhof begrawe is nie. Sy is eers twee-en-twintig jaar later oorlede en is in Vredenburg begrawe.

Op die voordeur was daar ’n koper bordjie met die plaas se naam, Klipvlei, daarop uitgedruk. Die naambordjie is gemaak deur my oom, John Booysen, wat vroeër die hoof van die tweeonderwyser skooltjie op Saldanha was. Hy was onder meer ’n hout- en metaalwerk onderwyser. Hy is later met my pa se jongste suster, Nance, getroud. Die naambordjie is al wat oorgebly het van die ou plaashuis en is vandag steeds in my besit. Die naam Klipvlei is ’n goeie beskrywing van die plaas vanweë die baie graniet klippe en die vleiagtige laer gedeeltes van die plaas. In die reënseisoen was daar heelwat vleie met water, wat in die somer droog was en ’n wit klei lagie (panne) agtergelaat het. As kinders het my broer Herman en ek dikwels in die reënseisoen op hierdie vlak vleie met ’n sink krip geroei. Dit was nogal ’n kuns om die krip op die water te balanseer en ons het dikwels gekantel en in die water beland. Aangesien die water baie vlak was, het dit nie enige gevaar vir ons ingehou nie. Ek is nie seker nie, maar ek verbeel my Willem en Manus Rabe het soms ook saam met ons geroei. Ons het gewoonlik naby die huis gespeel, maar daar was tye wat ons teen die kop agter die huis opgeloop en daar gespeel het. Net bokant die begraafplaas is daar twee groot rotse wat teen mekaar lê en ’n skeur vorm wat groot genoeg was vir kinders om daar in te stap. Daar was ’n nastergal bossie en ons het die ryp, pers bessies geëet. Die ander speelplek was Tiengklip. Hierdie

klip het ’n uitsteek punt na voor en as jy daarteen tik met ’n ander klip, maak dit ’n helder tienggeluid. Verder regs is Slangklip. Hierdie groot rots lê bo-op ’n ander een wat feitlik gelyk met die grond is en vorm ’n diep donker skeur. Ons het as kinders ’n spieëltjie geneem en dan die sonlig daarin weerkaats. Jy kon dan die slange sien waar hulle in die donkerte skuilhou. Een van die ander diertjies wat volop en oral op die rotse te sien was, was die koggelmanders (klipsalmanders) wat in die son op die granietrotse lê en braai het. Op baie warm dae is ons toegelaat om op Noordbaai (ons naaste strand op die plaas) te gaan

swem. Dit was so veilig in daardie dae dat ons ouers ons sonder enige vrees op ons eie kon stuur. Ons het dan al spelende, verby Muishondklip, tot by die swemplek met sy ysig koue water gestap. Daar is ’n pragtige wit sandstrand agter die duine, maar ons het verkies om in daardie dae se swemdrag – die seuns se swemklere het ook bostukke gehad, nou nie tweestuk nie – tussen die

rotspoele in die helder vlakwater te speel; nie swem nie. Nie een van ons kon ooit ordentlik swem nie. Ons ander speelplek was by die kafhope. Daar kon ons teen die kafhoop, wat met ’n laag strooi bedek was om dit droog te hou of om te verhoed dat die wind die kaf wegwaai, afseil. Dit was ’n baie lekker speelplek, maar omdat die kaf van onder af uitgewerk word vir kooigoed vir die perde, kon dit ook baie gevaarlik wees. As so ’n uitgeholde kafhoop op jou sou inmekaarstort kon jy maklik versmoor. Die weglê hoenders het ook hulle eiers daar gelê. Aangesien die naaste dokter daardie jare op Vredenburg was en daar van perde en perdekarre gebruik gemaak is as vervoer, was ons nogal baie afhanklik van plante en ander boererate om ons gesond te hou. Ek was vir die eerste keer by ’n dokter toe ek my arm gebreek het in standerd drie.

Verder het ons ouers ons self gedokter. Gifbol is ’n plant met breë plat blare wat teen die grond groei. Onder die grond is daar ’n groot uivormige bol, baie groter as ’n ui. Die bol het bestaan uit ’n kern met ’n vliesagtige laag aan die buitekant net soos in ’n ui. Die bol is uitgegrawe en gedroog voordat dit gebruik is. Hierdie lae is afgeskil en is op enige seerplek gesit en met ’n verband vasgebind om al die kwaad uit te trek. ’n Mens kon behoorlik voel hoe dit die ontsteking uit die wond of seer trek. Behalwe die gifbol is daar ook gebruik gemaak van ’n mengsel van blouseep en suiker om die pit in pitswere en neënoog sere te trek. Hierdie sere het algemeen voorgekom in my kinderdae. Dit kon seker te wyte wees aan een of ander tekort in ons dieet. Kattekruie, wat ook redelik maklik in die veld gevind kon word, is in water gekook om ’n ekstrak te vorm en is gebruik vir verkoues of enige siekte wat die lugweë versper het. Die melkbos se wit melk is op vratjies gesmeer en die mense het vas geglo dat die vratjie sal afval na ’n tydjie se behandeling. Ek verstaan dat die melkbos se melk nogal giftig is. Jy moet dit dus nie deur die mond inneem nie. Daar is ook baie gebruik gemaak van die klein botteltjies Hollandse medisynes, wat vandag nog in die winkels te koop is. Ons praat hier van harlemensis, harmansdrup, lewensessens, staaldruppels, borsdruppels en so meer. Kasterolie was natuurlik die gunsteling om jou bloed

“skoon te maak”. Die bloubottel is gereeld aan die begin van skoolvakansies nadergetrek. Ek dink dit is loshande die onaangenaamste van alle medisynes.

As kinders het ons ook graag bessies van doringbosse geëet. Hierdie tipe doringboompie, meer die grootte van ’n groterige struik, met pragtige rooi of oranje bessies was volop op die plaas en ons kinders het die bessies sommer van die boompies af geët. Ongelukkig was daar dikwels wurmpies in die bessies. Tant Let het baie lekker konfyt van hierdie mooi rooi en oranje bessies gekook.

Een van die groot probleme aan daardie deel van die Weskus was die groot skaarste aan water. Vars reënwater is vanaf die huise se dakke na ondergrondse watertenks gelei vir huisgebruik. Gedurende die winter het dit baie gereeld gereën. Soms kon dit vir feitlik twee weke aaneen reën en dan was water volop. Ongelukkig kon die ondergrondse watertenks net ’n sekere hoeveelheid water neem en baie kosbare water gaan daarna verlore. Omdat dit in die somer feitlik nooit reën nie moet daar baie spaarsaam met die tenk se water gewerk word sodat dit tot die volgende reënseisoen kan hou. Wanneer die watervoorraad begin laag raak, is die water met ’n waterkar vanaf ’n put aangery. Ongelukkig was die putwater baie brak en kon dit net gebruik word vir skottelgoed was en so meer. As die reën te lank talm om te kom, moes ons maar noodgedwonge die brak water drink. Die diere het heeljaar putwater gebruik en was gewoond daaraan. Die water is met ’n emmer uit die put geskep en dan met ’n ingeboude tregter in die groot wynvat op die waterkar gegooi. Hierdie proses kon maklik ’n uur of twee duur. Die vat het in sy lengte op die kar se bak gelê en is met hoepels vasgetrek om dit stewig in posisie te hou. Dit is deur twee muile of perde getrek. Die waterkar het gewoonlik nie ’n kraan gehad nie, die uitlaat is met ’n houtprop toegemaak. Die kar is dan so na as moontlik aan die kombuis staangemaak, sodat die water dan met ’n emmer na die kombuis gedra kon word soos benodig.

Dit was nogal ’n kuns om die emmer onder die uitlaatgat te hou, die prop dan los te wikkel en weer vinnig die prop terug te druk as die emmer vol is. Daar mag niks van hierdie water verlore gegaan het nie omdat dit ’n groot werk was om dit aan te ry. My pa het sy plaaswerkers baie goed behandel. Ek het nooit gesien dat hy sy plaaswerkers slaan of hardhandig behandel het nie. Hulle het wel die dopstelsel gehad maar so vêr ek kan onthou het hulle nie drank in die oggend voor werktyd gekry nie. In die laat namiddag, na werktyd, het elke manlike werker vir sy dop nadergestaan (uitgeholde afgesaagde beeshoring) en elkeen het slegs sy enkele dop vaaljapie gekry. Dit was ongelukkig nodig omdat hulle nie vir ’n boer sou werk as hy nie vir hulle dop gee nie. Ek onthou dat slegs een manlike en een vroulike werker op die plaas ’n drankprobleem gehad het. As kinders is ons geleer om die plaaswerkers te respekteer. Die benaming Outa en Aia was met die grootste respek gebruik. Ons sou hulle nooit net op die naam noem of onbeskof met hulle wees nie. Outa Frederik was een van die werkers wat nog vir my oupa gewerk het. Hy was ’n netjiese werker wat nooit enige probleme gegee het nie. Ek kan nie onthou of hy ’n vrou gehad het nie en as hy getroud was of sy vrou vir ons gewerk het nie. My pa het my vertel dat sy pa dikwels vir outa Frederik gestuur het om gou ’n paar vissies vir aandete te gaan vang. Hy het presies geweet waar om in te gooi en het nooit met leë hande teruggekeer nie, want vis was volop. Dit was ook nie ’n probleem om kreef uit te haal nie. Jy kon hulle sommer in die vlakwater onder die rotse uithaal. Omdat daar in daardie jare nie ys- en vrieskaste was nie, het mense net genoeg vir hulle daaglikse behoeftes uitgehaal. Kreef was ook nie eintlik as ’n lekkerny beskou nie. Outa Krisjan Lootring, seker afgelei van Lottering, was ’n bietjie van ’n probleem. Hy was baie lief vir sy drank en dit het ook gebeur dat hy op ’n keer by die wynkelder met die vat vaaljapie ingebreek het. Dit was nie ’n probleem om die inbreker te vang nie, want dié het gewoonlik gedrink totdat hy nie meer kon nie, en dan net daar bly lê. Hy was nogtans ’n goeie werker en het by my pa bly werk totdat ons die plaas verlaat het. Hy was getroud met aia Katrina wat by my ma in die huis gewerk het. Hulle het in ’n huisie onderkant die plaashuis, naby die panne gebly. Hulle seuntjie, Haasbroek, was omtrent my ouderdom en ons twee was baie lekker speelmaats. Ons het vir ure in die melkskuur paadjies in die droë beesmis gemaak en met my karretjies gespeel. Behalwe die karretjies het ons bees- of perde kakebene gebruik as waens. Die kakebeen is dan vol kamtige gerwe, wat ons van gras gemaak het, gelaai en met ’n masjientou gesleep tot by plek waar ons ’n mied gepak het. Die Weskus is baie geskik vir gemengde boerdery. My pa het ’n hele aantal beeste en ongeveer honderd skape gehad, plus ’n paar varke en ’n klompie hoenders en eende. Die beeste en skape het op die braaklande en stoppellande gewei nadat die graan afgesny is. Die skape is in die oggend deur die skaapwagter, met sy bladsak met sy ete en drinkgoedjies, die veld ingeneem om te wei. Ek dink outa Krisjan was die skaapwagter. Dit was ook sy werk om te sorg dat die skape na die waterdrinkplek by die put geneem word om water te drink voordat hulle saans in die skaapkraal gejaag word. Teen die aand word die beeste na die melkskuur aangejaag, waar elkeen presies geweet het waar sy staanplek by die krip met voer was.

’n Riem word om die horings gespan en by die staanplek vasgemaak terwyl die beeste hulle beurt afwag om gemelk te word. Alles word op ’n baie rustige manier gedoen want ’n koei wat gespanne is sak nie maklik nie. Die melker span die koei sodat sy nie miskien die melkemmer om kan skop nie. Hy sit op sy lae bankie met die kop teen die koei se lies en nou-nou spuit die melk in helderwit strale in die emmer om ’n dik laag skuim op die oppervlak te laat. So nou en dan swaai die stert om ’n lastige vlieg weg te piets en die melker kry gewoonlik ook ’n hou met die stert se kwas teen sy kop. Ons het soms met melktyd langs die melker gaan staan sodat hy ’n straaltjie van die lekker vars melk in jou oop mond kon spuit. Die emmers vol melk is deur ’n doek gegooi om enige vuiligheid wat daarin beland het terug te hou, voordat dit in die roomafskeier (ons het dit die sepperyter genoem) se boonste bak gegooi is. Dan is die roomafskeier se slinger egalig gedraai, totdat die klokkie aan die slinger met ’n egalige ritme lui en daarna is die melkkraantjie oopgedraai. Draai jy te vinnig, bly daar van die room agter in die melk, draai jy dit te stadig, is daar melk in die room. Die room is dan van ’n laer graad en die boer kry minder geld. Die afskeier het twee tuite, een waar die afgeroomde melk in ’n emmer opgevang word en die ander waar die dun straaltjie room opgevang word. Die afgeroomde melk wat oorbly nadat die werkers hulle deel gekry het, is vir die paar varke gevoer. ’n Deel van die room is gehou om te karring vir botter. Die res van die room is in roomkanne per trein na Darling Creamery gestuur. Die leë kan is teruggestuur met ’n kaartjie in die kan, wat die graad (bottervet gehalte) aangedui het. Die room wat gehou is vir eie gebruik is in ’n karring gegooi wat bestaan het uit ’n vier gelling paraffienblik met ’n hout deksel wat stewig op die blik gepas het. In die middel van die deksel was

’n gat waardeur ’n lang besemsteel, met ses dwars vingers aan die punt, op en af beweeg is totdat die botter gevorm is. Die karringmelk, vir baie mense ’n lekkerny, is dan afgegooi en die botter is in ’n emalje skottel gesit. Dit word daarna met ’n hout botterspaan met gleufies gedruk totdat al die melk uit is. As die botter in die winkel verkoop is, was dit netjies in ’n reghoekige houtvorm saamgepers en die blok is in spesiale waspapier, met die boer se naam daarop, toegedraai. As ’n boer bekend was vir sy lekker botter, het die kliënte gewoonlik gevra vir sy botter. Daar is ook niks lekkerder as ’n dik sny warm plaasbrood, vars uit die oond, met plaasbotter of lekker loperige varkvet daarop nie. Smeer dit dan nog met lekker “Lyles” gouestroop en jy eet soos ’n koning. ’n Ander baie bedrywige tyd op die plaas was skeertyd. Die skape is in die kraal gehou en ’n paar skeerders met skaapskêre is gebruik om die skape te skeer. ’n Swak skeerder het dikwels die skape raak gesny sodat daar duidelike bloedkolle sigbaar was. Deesdae word daar meestal van elektriese skêre gebruik gemaak om die skape te skeer. Die wol word dan in groot bale gepers om verkoop te word. My pa het my vertel dat hy gedurende die depressiejare slegs ’n trippens (tweeen-‘ n-half sent) vir ’n pond wol gekry het. Die pluimveeboerdery was gewoonlik die plaasvrou se afdeling. Sy het gesorg, met behulp van die kinders, dat die hoenders en ander pluimvee elke oggend vars water kry en genoeg kos om hulle goed te laat lê. Die broeis henne is dan op ’n klompie eiers op ’n nes gesit om te broei.

Die kuikens met hulle donsige lyfies is met groot deernis en liefde versorg, want hulle was die toekomstige eier verskaffers. Daar was natuurlik heelwat vyande (predatore) wat jag gemaak het op die kuikens. As die hen ’n valk gewaar het, het sy onmiddellik die kuikens onder haar vlerke bymekaargeskraap om hulle te beskerm. Die hoenderkampie moes dig genoeg wees om al die ongewenstes uit te hou. Persoonlik dink ek dat dorstyd vir die graanboer ’n hoogtepunt van sy jaarlikse werkrooster is. Dis die tyd dat hy die beloning ontvang vir al die harde werk wat gedurende die jaar ingesit is om die grond voor te berei vir saaityd. As dit ’n goeie jaar was, kan hy breed glimlag, maar soms kry hy maar ook sy misoes en moet hy tevrede wees met ’n skraal beloning vir al sy moeite. Ek het reeds vertel van die gerwe wat naby die huis in miede gepak is, gewoonlik op ’n plek wat so gelyk as moontlik is. Die miede word ook so gepak dat die dorsmasjien tussen twee miede kan staan, met die vensters regoor die dorsbak. Die vensters is ’n staanplek wat gelyk of net hoër as die dorsbak is, sodat die man wat daar staan gemaklik die gerwe na die voerman op die dorsbak kan gooi met sy tweetandvurk. Die mied is dan verder baie hoër as die venster se vlak gepak en die man bo-op die mied gooi die gerwe na onder in die venster. Hierdie proses duur van ligdag tot skemer vanaand, want die eienaar van die dorsmasjien trek van een plaas na die ander om te dors. Daar word ’n paar dae voor die tyd gereed gemaak vir die aankoms van die dorsmasjien. Gedurende dorstyd sal daar ’n hele paar ekstra monde wees om te voed en die boer moet sorg dat daar genoeg kos vir almal is. Daar word ’n vark en ’n bees geslag, en my pa se tante, tant Mynie van der Westhuizen van Saldanha, word spesiaal op die dorp gehaal om te help met die verwerking van al die vleis. Sy was bekend as ’n bobaas worsmaker. Niks gaan verlore nie. Ek onthou die heerlike sult (brawn) wat van die kloutjies en ander dele gemaak is en in groot blokke gesny is. Daar moes elke dag vir al die werkers brood gebak word in die groot bakoond. As ek reg onthou het die dorstyd ongeveer twee weke geduur; ’n baie bedrywige tyd op die plaas. In daardie jare was daar slegs ’n paar dorsmasjiene in die gebied waar ons geboer het. My pa het gebruik gemaak van oom Hentas Ehlers (vêrlangse familie) van die plaas Oranjevlei se dorsmasjien. Hy was ook verantwoordelik vir die opstel en instandhouding van die masjien. Die masjien sowel as die trekker wat die masjien gesleep het, het ysterwiele gehad. Die trekker moes die dorsmasjien aandryf met ’n lang breë band wat tussen die masjien en die trekker gespan is. Die trekker se aandryf wiel en die wiel op die masjien moes presies in lyn wees en die afstand tussen die twee moes so wees dat die band nie te slap of te styf was nie. Daar was ’n twist in die band sodat dit gelyk het asof dit in die middel teen mekaar skuur. Die oggend wat die dorsmasjien sou opdaag, was daar groot opgewondenheid op die plaas. Almal se oë was gevestig op die hoogtetjie by Kalkrug om te sien wanneer die ou trekker met sy yster kapperwiele sy neus teen die hoogte uitstoot. Dit was ’n baie stadige prosessie want met die ysterwiele sonder ’n veerstelsel moes daar baie stadig oor die ongelykhede in die tweespoor plaaspaadjie gery word. Dit kon maklik ’n uur duur om die een en ’n half myl tussen Kalkrug en ons plaas af te lê.

By die plaas aangekom, is daar dadelik begin om die dorsmasjien honderd persent waterpas te kry. Daarna moes die trekker presies op die regte plek sy staan kry. Dieselfde dag is alles gereed gemaak om vroeg die volgende môre te begin dors. Die gerwe, word soos voorheen verduidelik, aan die voerman op die bak gegooi. Hy sny die masjientou om die gerf af en voer dit dan deur ’n gat op die bak. Die masjien slaan die korrels los en en die graan val deur na die siwwe. Die hooi, of strooi, soos ons dit genoem het gaan na die agterkant van die masjien waar dit gekerf word tot kaf en dan deur ’n sterk blaser of waaier met ’n lang, hoë pyp, waarvan die hoogte en rigting verstel kan word, uitgeblaas word na die kafhoop. As die kafhoop groot genoeg is, word die meganisme wat die strooi kerf ontkoppel en ’n laag strooi word oor die hoop geblaas om te verhoed dat dit wegwaai of nat word. Die dorsmasjien het ’n paar hout geute aan die voorkant waar die graankorrels uitloop. Die siwwe waarop die graankorrels beland het, het verskillende groottes gaatjies gehad. Die kleinste korrels loop by die vêrste geut uit. Die groter korrels was in die volgende geut en so aan. ’n Mudsak het aan hake by elke geut gehang. Ek onthou dat my pa kort-kort sy hand voor die geute gehou het om na die grootte van die korrels te kyk. Daar was ’n skaal langs die uitlaat geute en as die sak vol was, is dit van die hake verwyder en op die skaal gesit. Dit is geweeg en graan is bygesit of weggeneem om die gewig van 202 pond, die gewig van die graan en die sak, te kry. Daarna is die streepsak met ’n seilnaald en masjientou toegewerk met een “oor” aan elke kant vir goeie vatplek as die sak graan op die rug weggedra en op ’n netjiese hoop gepak is. Die koring was dan per bokwa na die stasie op Saldanha vervoer, vanwaar dit per trein na die koöperasie gestuur is. ’n Gedeelte van die koring is op die solder gestoor om op Vredenburg by oom Frank du Bois se meule gemaal te word vir broodmeel. Die hawer is gestoor vir voer vir die diere. Wat met die gars en rog gebeur het, weet ek nie. Ons het gebruik gemaak van ’n perdekar as vervoermiddel as daar inkopies op die dorp gedoen moes word. Aanvanklik het die kar normale houtwiele met ’n ysterband gehad, maar later is die wiele vervang met motorwiele met bande. Om weer die regte hoogte vir die kar te kry is taamlike hoë houtblokke tussen die bladvere en die as aangebring. Op sanderige paaie het dit ’n groot voordeel gehad, aangesien dit nie so maklik soos die smal yster bandjies in die sanderige paaie weggesak het nie. Ek verbeel my dat ons ook ’n kapkar gehad het, maar ek kan nie onthou dat ons dit ooit gebruik

het nie. Kapkarre was eintlik gebruik om die warm son uit te hou, of om die passasiers droog te hou as dit reën. Nou en dan het my pa met die perdekar dorp toe gery en ons kon die rit meemaak tot by die skool. Dit was ’n aangename ervaring om die geklap van die hoewe op die grondpad en die geklop van die disselboom teen die draaghout te hoor. Toe die tweede wêreldoorlog uitbreek, was die skrif aan die muur vir Klipvlei. Die plaas was weens sy ligging langs die see en die koppies wat ’n mooi uitsig oor die see gebied het, uiters geskik vir verdediging teen vreemde skepe en duikbote. Die weermag het die plaas, wat toe aan SANTAM behoort het, oorgeneem. Daar is dadelik begin met die oprigting van groot kanonne op Noordbaai se kop en Baviaansberg. Oorblyfsels van die swaar kanonne is nog steeds daar te sien.

’n Pad is na Noordbaai se kop gebou om al die swaar items te vervoer. Daar was ook hout barakke vir die soldate op die kop gebou. Hierdie pad is deur my pa se landerye gemaak. Hy was baie uitgesproke teen die destydse regering en hulle het geglo dat hy ’n vooraanstaande lid van die Ossewa Brandwag was. Hulle het baie keer moedswillig met hulle groot voertuie deur sy landerye gery. Dit het daartoe gelei dat daar ’n baie gespanne verhouding tussen hom en die bevelvoerder ontstaan het. Die bedrywighede van die groot aantal voertuie wat oor die plaaswerf beweeg het, het die eens rustige plaaslewe versteur. Aan die begin was daar wel voordele verbonde aan die militêre bedrywighede. My ma het op redelike groot skaal brood gebak, en ook sommige ander plaasprodukte aan die militêre personeel verkoop. Soos die gebruik daardie jare op al die plase was, is die deeg in ’n groot hout bakkis, wat op pote gestaan het, aangemaak en gelos om te rys. Daarna is dit in die broodplate gesit en in die bakoond geplaas. Daar was geen bakkery in die omgewing nie en die militêre personeel was maar te dankbaar om die brood so naby aan hulle basis te kon kry. Met die vyandige houding van my pa teenoor die bevelvoerder het hulle begin om ander boere te ondersteun, wat maar te gretig was om ook te deel in die handel. Later het die militêre polisie dikwels onverwags opgedaag om ons huis te deursoek vir ’n radio

sender. Daar was sprake van iemand in die omgewing wat per radio inligting aan die Duitsers verskaf het. As gevolg van my pa se teenstand teen die regering, het hulle vas geglo dat hy daarby betrokke was. My ma was baie ongelukkig oor die situasie want hulle het gewoonlik die huis deursoek as hy nie tuis was nie.

Daar was wagte by al die toegange na die plaas en ons moes almal passe met ons saamdra om die plaas te verlaat en binne te kom. Dit het ook vir ons as skoolkinders gegeld. Ten spyte van my pa se houding teenoor die weermag, het ons seuns die kakie uniforms met die rooi lussies op die skouers bewonder. Ons het gewoonlik in elk geval kakie klere by die huis gedra en ons het rooi stukkies lap op ons skouers vasgemaak om so na as moontlik aan ons droom, om ’n soldaat te wees, te kom. Ons het kanonne gemaak van hoepels wat styf gespan en met klippies gelaai word. Met hierdie hoepel kanonne het ons dan mekaar se vestings bestook. Oorlog speel was vir ons groot pret. Aan die einde van 1942 was die plaas in rep en roer toe ’n Engelse vragskip, die City of Hankow, in digte mis naby Agter-Klipvlei op die rotse geloop het. Daar was bespiegel dat die skip deur ’n Duitse duikboot gejaag is en geen ander keuse gehad het as om op die rotse te loop nie. Dit was egter nie die waarheid nie. Die boot het as gevolg van digte mis te gou links gedraai en op die rotse geloop. Alhoewel daar wagte in die omgewing van die gestrande skip aan diens was, het ons seuns (die Rabes ingesluit) deur die lae bossies na die gestrande skip gesluip. Moontlik het die wagte ons wel gesien maar hulle nie aan die kinders gesteur nie. Baie van die vrag is oorboord gegooi in ’n poging om die boot ligter te maak. Daar was talle fiets onderdele, maar alles wat oorboord gegooi is, is eers onbruikbaar gemaak. Fietsbande se draad is afgesny, rame is gebuig en so meer. Groot rolle materiaal het later oral langs die kus uitgespoel en is deur die mense gebruik om klere, veral voorskote te maak. Vir ons was daar niks om saam te vat nie, maar om vir die

eerste keer so ’n groot skip so na aan jou op die rotse te sien lê, was ’n groot genoeg beloning. Ek onthou nog baie goed die aande wat daar black outs was. Daardie jare was daar nog nie elektrisiteit op Vredenburg en Saldanha nie, ons het maar van lanterns, paraffienlampe en kerse gebruik gemaak. Op daardie aande was niemand toegelaat om selfs die flouste kersliggie te brand nie. Dit was moontlik uit vrees vir aanvalle op die weermag basis. Ons het gelukkig hout blindings gehad wat baie dig was, maar om te verhoed dat enige lig deur die gleuwe skyn, het ons ook komberse voor die vensters gehang. So kon ons darem van ‘n flou kersliggie gebruik maak gedurende die black outs. Die dag het uiteindelik aangebreek dat die plaasseuntjie en sy tweeling sussie skool toe moes gaan. Herman en Dorothea was reeds op skool, ek dink sy was in standerd een en Herman moontlik standerd drie of vier. Vir my was dit maar ’n skrale troos dat ek darem ’n groter broer en suster op skool gehad het. Ek sou baie liewer met Haasboud in die melkskuur wou speel. My ouers het ons daardie môre met die perdekar skool toe geneem en tot by die klaskamer saamgegaan. Nadat hulle vir my en Marion by die klaskamer afgegee het, het hulle gaan inkopies doen. Dit was ’n twee man (man en ’n vrou) skooltjie, met die Sub A tot standerd twee kinders by juffrou Visser in die een klas, en standerd drie tot ses in die ander klas by meneer Olivier. Ons was vyf kinders in Sub A. Ek het my plek in die bank ingeneem, moontlik langs Marion en die wêreld om my mooi bekyk vir ’n gaping om te ontsnap. Toe ek dink dis die regte oomblik, het ek opgespring, die deur oopgeruk, en genael vir al wat ek werd was om die afstand tussen hierdie gehate tronk en my vryheid so vinnig moontlik te vergroot. My ouma se huis was ongeveer tweehonderd tree van die skool af en ek het die pad in daardie rigting gevat. Ek kan nou nie onthou wat my verdere beplanning was nie, wou moontlik net sovêr moontlik van die skool af wegkom. Miskien wou ek by ouma se huis gaan skuil, of miskien wou ek die twee en ’n half myl (ongeveer vier kilometer) plaas toe hardloop. Maak nie saak nie, solank ek net nie in ’n gebou vasgekluister hoef te wees nie. My nuutgevonde vryheid was egter van korte duur, want juffrou Visser het onmiddellik van die groter seuns opkommandeer om my in te hardloop en terug te bring. As ek vandag terugdink aan dié petalje skaam ek my steeds. Vir die ander kinders in die klas was dit seker groot pret. Dit verbaas my dat Marion nie saam met my die pad gevat het nie. Ons was eintlik baie gelukkig om so na aan die see skool te gaan, met die gekrys van die

seemeeue gedurig in ons ore. Wanneer ek by die huidige skool verbyry gedurende my vakansies, sien ek die meeue steeds op die skoolterrein rond aas vir enige afval kossies wat die kinders agterlaat. Daardie jare het ons leie en griffies (griffels) gebruik om te skryf. Die leie is skoongemaak met ’n klam sponsie. Daar was permanente lyne op die lei en ons moes tot vervelens toe figuurtjies tussen die lyne trek om ons handvaardigheid te oefen. Ek neem aan dat die leie slegs in Sub A en Sub B gebruik is. Daarna het ons die alfabet geleer en ons moes rye met a’s, b’s en die res van die alfabet netjies tussen die lyne op die leie skryf. Ons moes leer om die letters uit te spreek en het eers geklank voordat ons kon lees. ‘A’ was uitgespreek as ’n kort ‘a’-klank, ‘b’ was ‘be’, ‘d’ was

‘de’. Die woord ‘kas’ was eers geklank as ‘ke a ss’ en dan uitgespreek as ‘kas’.

Dan was daar somme gedoen. Ons het ook leer lees uit die Dagbreek leesboekies en die Engelse Sam and Pam reeks. Meneer Olivier, altyd netjies gestewel en gespoor, het teen Baviaanskop gebly en het soggens skool toe geloop. Ons kon mooi sien as hy die huis teen die kop verlaat. Sodra hy die strand gedeelte bereik waar hy buite ons sig was, het die groter seuns soms ’n gat in die voetpaadjie, wat oor die laaste deel van sy roete strek, gegrawe en dit netjies met stokkies, blare en ’n lagie grond bedek sodat hy daarin kon trap en struikel. Hulle het dan die paadjie dopgehou om te sien wat gebeur, maar altyd tevergeefs. Hy was moontlik te uitgeslape om hom deur die skoolseuns te laat

vang. Wanneer nodig het meneer Olivier die kweperlat ingelê. Die seuns moes dan oor die stoel se sitplek buk vir die pak slae. Op ’n keer het een van die seuns groot opskudding veroorsaak toe hy opgespring en weggehardloop het na die eerste hou. Ek dink dit was Coenraad Dein of Duin – ons het albei dieselfde uitgespreek in ons tipiese Weskus styl. Die ander seuns moes hom gaan vang, maar sy voorsprong was te groot of hulle was miskien nie baie lus om hom te vang nie. Soms het ons kortpad deur oom Jan Rabe se koringland gehardloop; kinders stap mos nie. As die koring reeds redelik hoog gestaan het, het die kind of kinders wat ’n entjie voor die ander was, die halms oor die voetpaadjie aanmekaar geknoop sodat dié wat later daarlangs deurhardloop se voete daaraan vashaak en hulle taamlik hard met die grond kennis maak. Daar was nie ’n NG Kerk in Saldanha nie, maar wel ’n kerksaaltjie. Mnr. Olivier het soms die Sondagdiens in hierdie klein saaltjie gehou. Later het Vredenburg se predikant Sondagnamiddag ’n diens hier gehou. Dit is selfs moontlik dat die predikant spesiaal na Saldanha gekom het vir ’n spesiale diens om Saldanha se babas hier te doop en hulle in Vredenburg se doopregister aan te teken het. Dit is tog immers makliker vir die predikant wees om van Vredenburg af te kom as wat dit sou wees om ’n aantal babas na die kerk in Vredenburg met perdekarre aan te ry. Die kerksaaltjie was ook gebruik om ons skoolkonsert in te hou. Eienaardig dat ek niks kan onthou van ons vertrek vanaf die plaas nie. Ek onthou net die vendusie, toe my pa van al sy plaasimplemente en diere ontslae moes raak. Hy het wel sy perdekar en die twee karperde asook drie melkkoeie uitgehou om saam te neem na sy klein boerdery op Vredenburg. Volgens ’n brief van hom wat ek in my besit het, het die militêre owerhede hom kennis gegee om die plaas aan die einde van 1941 te verlaat. Teen hierdie tyd het die spoorlyn wat vanaf Saldanha aangelê is, vlak voor sy perdestal tot stilstand gekom. Die owerhede wou met alle geweld voortgaan met die spoorlyn en het gedreig om die stalle af te breek. Uiteindelik het hy uitstel gekry tot April 1942. Dit moes vir hom baie traumaties gewees het om die plaas waar hy gebore is, grootgeword en uiteindelik self geboer het, te verlaat. Wat dit nog moeiliker gemaak het, was die feit dat hy deur die depressiejare moes worstel en nou dat dit uiteindelik beter met die boere gaan, die plaas moes verlaat. Ek sien in sy brief dat ons vir drie dae by my ouma in Saldanha oorgebly het totdat die huis in Vredenburg beskikbaar was. Daarvan onthou ek niks. Ek dink hy het fout gemaak met die datums. Volgens my berekening het ek in 1943 in standerd een op Vredenburg begin skoolgaan. Weereens ‘n groot aanpassing.

Die HMS VANGUARD. Die koninlike skip van Engeland.

 

The week-end was spent anchored at Simon’s Town, with most of the ship’s company going back ‘up the line’ to Cape Town for farewell feeds of proverbial ‘steak eggs and chips’ before leaving for Saldanha on 10 March 1947.  The half-yearly full power trial and radar exercises were carried out on passage before reaching Saldanha Bay the same day.

The next fortnight was spent in renovating the ship, holding regattas, and meeting S.A.N.F. (South African Naval Forces) friends (who dripped morosely that those initials stood for Saldanha and no Further.)   Some crew also managed to save money for the next wave of entertainments at Durban and Cape Town.   Due to the size of the ship, however, it could not anchor in a good lee.   Not being protected from the ocean swell, there were days during the fortnight at Saldanha when engagements had to be cancelled.

 

Die HMS Vanguard het in 1947 in Saldanha voor anker gelê.  Ons skoolkinders is in groepies met ‘n motorboot na die skip geneem is, waar die koninklike gesin se woonkwartiere aan ons gewys is.  Die gesin het op daardie stadium per wittrein deur die land gereis.


 

MY LEWE OP KLIPVLEI SOOS VERTEL DEUR HERMAN RABE

dsc_0022   img_1504

DIE RABE FAMILIE

Die Rabe-familie kom oorspronklik van die Darling distrik waar my Oupa Willem Rabe twee plase besit het.  Gedurende die depressie jare speel hy egter bankrot en die vier seuns wat saam met hom geboer het moes toe n ander heenkome vind.  My Oupa en die twee ouer broers naamlik Pieter en Chrisjan vertrek na die Weskus waar hulle die plase Kleinberg en Uievlei huur en dan ook later koop.  Die twee jonger broers naamlik Daanjie en Jan (Herman Rabe se pa) het vir ander boere gaan werk. Daanjie het in die Hopefield distrik gaan werk terwyl my pa, Jan op Olifantskop, die familieplaas van die Stoffbergs gaan werk het.  So trou beide van hulle later met die twee stofberg dogters.  My pa met Mienie die oudste dogter en oom daanjie met die jongste dogter Nella. Vroeg in 1937 besluit my pa en oom Daanjie om n venootskap te sluit met met die hulp van hul swaer, Tienie Stoffberg en die broers Pieter en Chrisjan Rabe , huur hulle die plaas Voor Klipvlei van die staat asook n klein plasie, Kalkrug, wat aan die Saldanha dorp grens.  Hulle boerdery het vinnig vooruit gegaan en gedurende 1939 huur hulle ook die plaas Spioenkop wat aan hulle twee ouer broers se plase grens.  My pa en sy gesin het op die die plaas Voor Klipvlei gebly en my oom Daanjie op Kalkrug en later op Spioenkop.  Ek onthou ook die volgende insidente tydens die tweede wereld oorlog.  Oom Japie Sadie en sy vrou Maraai se woonhuis was ongeveer n 100 tree aan die suidekant van ons huis.  Hulle het 5 kinders gehad waarvan ek die jongste twee kinders goed kan onthou.  James was 1 jaar ouer as ek en Emelia was net so oud soos ek.  Oom Bertie Sadie en sy broer het op Agter Klipvlei geboer.   Volgens wat ek kan onthou was albei oujongkerels en n suster het vir hulle huis gehou.  Die twee woonhuise wat op Voor Klipvlei was, was hoog teen die Moresonkop gelee.  Ek onthou die woonhuis waarin ons gewoon het soos uiteen gesit in aangehegte skets.  Albei die woonhuise was later gesloop om plek te maak vir militere huise.

N OPROEP UIT DIE BLOUTE

En so ontvang ek n oproep van n ene Herman Rabe.  Hy skakel my om te hoor of ek hom nie die militere area wil wys nie want volgens hom het hy hier groot geword. Uit die gesprek kon ek hoor dat die persoon redelik oud moet wees maar ek het nog nooit gehoor van Rabe’s wat hier gewoon het of groot geword het nie. Ek maak toe n afspraak om Herman Rabe die volgende dag te ontmoet.  Stiptelik die oggend 10 uur daag hy op.  Hy stel hom voor en vra of ek hom die plek kan wys want die was baie jare gelede wat hy hier was.  So neem ek hom na Moreson se kant.  Hy vertel dat die grafte die familie van die Sadies is wat vir baie jare hier geboer het. Hy vertel van die plaas Voor Klipvlei en die Plaas Agter Klipvlei wat albei aan hulle behoort het. Hy vertel ook dat die plaas Voor klipvlei later in twee gedeel was. Hy neem my verder teen die Moreson kop uit en wys my n plek waar twee huise gestaan het. Ek weet van die huise maar het nooit geweet presies waar hulle was nie.  Hy haal n foto uit en wys my hoe dit gelyk het. Op die foto kan duidelik gesien word waar die huise gestaan het. Hy vertel my dat hy in die linkerkantse huis groot geword het en dat een van die Sadie broers in die huis langsaan gewoon het.  En so ry ons verder om die Moreson kop na Agter Kilpvlei.  So vertel hy dat die gewese golfbaan eintlik die plaas Jakalsfontein was, meer na die dorp se kant was dit Kalkrug en meer agtertoe die plaas Middelpos. Hy vertel ook dat die Klipvlei plase in 1930 aan die staat verkoop  was wat die area as militere gebied wou ontwikkel.  Die eienaars het egter woonreg behou met beperkte boerdery aktiwiteite tot 1942.

GEBEURE TYDENS DIE OORLOGSJARE

Hy vertel dat hy nog goed onthou van die soekligte gedurende die nagte wat die ligruim en die aangrense see-areas belig het asook die kanonne wat afgevuur word.  Ook gedurende die dag was kanonskote gedurig gehoor.  Die soldate van die kanonkoppies (Malgaskop en Baviaansberg ) het saans na ons huis gekom vir geselskap.  Hierdie soldate het almal rooi linte gedra. Hy vertel dat hy sy ma verpes het om ook rooi linte op sy klere vas te werk. Britse oorlogskepe het dikwils die hawe van Saldanha aangedoen om voorrade aan te vul.  Terwyl een van die Britse bote in die hawe gele het (dit was in 1940 of 1941) het een van die offisiere in die namiddae kom perd ry.  Hy het bevriend geraak met ons familie omdat my ma van die min mense was wat engels vlot kon praat ( sy het in 1919 op La Rochelle in die Paarl gematriekuleer waar hulle slegs engels moes praat).  N dag voordat die skip van hierdie offisier sou erug seil na Engeland het hy vir die laaste keep kom perdry en om te groet. By sy aankoms by ons huis het hy my opgetel en voor hom op die saal geplaas en afgery na die plaasdam.  Daar gekom het hy aan my n seilbootjie wat hy self gebou gegee en dit ter water gelaat sodat ek daarmee kon speel.  Die volgende dag hethulle geseil  terug na England.  Ongeveer 4 dae in hule tog terug is die skip gekelder en almal op die skip is dood. N familie lid van die offisier het wat ook met my ma gekorrespodeer het het blykbaar die tyding deurgestuur.  Gedurende 1942 moes al die gesinne, naamlik die Sadie en onsself, die plase ontruim.  Ons het toe asgevolg van skoolverpilgtinge na n tweede huis op die plaas sioenkop getrek.  My pa het egter n geldige huurkontrak  vir al die Kiplvlei plase met die staat gesluit wat ons toegelaat het om die Agter Kilpvlei gedurende besoeke te bewoon.  Aangesien die hele militere gebied afgekamp was, was toegang slegs by wyse van n permit toegelaat.  My pa moes weekliks die plase besoek en moes elke keer vir sodanige permit aansoek doen. Gedurende vakansie tye wanneer die gesin hom vergesel, moes n permit elke lid van die gesin gereel word.  Die areas naby die geboue en kanonne wat verbode terrein vir almal behalwe die soldate.  Die nuuskierigheid van die jong kinders het die oorhand gekry en so het  ons gekyk watter dae stiller was en dan tussen die bosse opgesluip teen die kop om na die kanonne te gaan kyk.  Omdat ons nie voltyds op die plaas mag bly nie, het my pa vir oom Sarel Oberholzer gekry om na die veekomponent om te sien.  Die plaashuis was verdeel om ons te kon akkommodeer tydens familie besoeke.  So is die grootste deel van die huis op Agter Kilpvlei aan oom Oberhozer afgestaan. My pa het slegs die n slaapkamer en kombuis gedeelte uitgehou as tydelike huisvesting vir wanneer ons die plaas besoek.  Die hele gesien het in hierdie gedeelte gewoon tydens vakansie tye.  Tydens een vakansie het n vragskipaan die westelike kant van die plaas op die rotse geloop.  Party mense het geglo dat  hy gevlug het vir n duitse duikboot.  Ander het weer geglo dat die kaptein hom misgis het met die ingang van die lagoon en dat hy tevroeg gedraai het asgevolg van digte mis.  Die hulp van die polisie en soldate was ingeroep en sodoende het hulle al die bemanning gered.  Die perde aanboord moes ongelukkig van kant gemaak word. Baie van die voorrrade wat die skip vervoer het het op die rotse uitgespoel.  As kind het ek dikwils die ongeluks toneel besoek  en vir maande kon ons nog die oorblyfsels van die skip op die rotse sien.  Ek onthou hoe rolle materiaal vir omtrent (in vandag se taal) ongeveer n kilometer ver op die rotse op gestapel was en ook hoe wrakstukke vanligte vliegtuieook daar beland het.  Alhoewel die uitgepoelde rolle materiaal goed bewaak was het baie tog voete gekry.  Op n Sondag kon mens sien hoe bie mense se kerkpakke gekreukel was as gevolg van die seewater.          

Gedurende die oorlogsjare mag niemand witbrood gebak het nie maar slegs bruin brood.  Die eerste witbrood wat ek geeet het was op die skip die “HMS Vanguard”.  wat die britse koningsgesin na Suid Afrika gebring in 1947. Die skip het op 10 Maart 1947 uit die Kaapse hawe vertrek waar dit nog dieselfde dag in Saldanha voor anker komle het. Die skool waarin ek was het die geleentheid gekry om die skip te besoek. Ons skoolkinders is in groepies met ‘n motorboot na die skip geneem, waar die koninklike gesin se woonkwartiere aan ons gewys is.  Die gesin het op daardie stadium per wittrein deur die land gereis.  Ek onthou ook dat suiker tydens die oorlog jare in groot blikke te kry was. Wanneer sodanige blik oopgemaak was, was daar n proselein bord in die blik. Na die oorlog het daar twee karkasse by brandewyn baai uitgespoel.

DIE DORP SALDANHA

Ek onthou Saldanha as n klein vissersdorpie.  Die huise was oor n groot area versprei en almal het mekaar geken en geweet waar elkeen bly.  Al die besighede was langs die hoofweg gelee.  Dit was nou die pad agter Klippies dorp (vandag Hoedjieskop). Daar was 6 winkels, twee hotelle naamlik die Hoedjiesbaai Hotel en die Saldanha Hotel, asook n slaghuis en n visvabriek. Verder aan was daar n Poskantoor, Polisiekantoor  en Munisipale kantore.  Die winkel aan die noorde kant van die dorp het aan Mnre Tolken  en Wilsenaar behoort, en aan die suidekant aan Mnre Singer en Jaffe.  Mnre Singer en Jaffe het ook elk hul eie lynvis besigheid bedryf.  Hulle het elk hul eie jetty en klein vissersbootjies gehad.  Die roeibakkies het hoofsaaklik in die baai rond beweeg, terwyl die groter bote met seile om die punt by die eilande kon visvang.  Hulle het hoofsaaklik op lynvis gekonsentreer, maar het ook marsbankers, harders en makriel met nette gevang.  Vars vis is daagliks vanaf die jetties verkoop, terwyl die res van die vis as soutvis verkoop was.  Hulle het ook snoek in seisoentyd gevang en verkoop.  Die visfabrieke het grootliks op sardynvangste gekonsentreer. Die besigheidsmark het bestaan uit werkers van die visfabriek, die aangresende Vlootgimnasuim , asook soldate van die militere area.  Die boere gemeenskap was maar arm en was aangewese op ruilhandel.  Hulle moes daagliks kos aan hul werkers voorsien, naamlik n gekookte middagmaal en rantsoene vir die oggend en aandmaaltye.  Die rantsoene het hoofsaaklik bestaan uit vars sowel as soutvis, vleis en meel.  Die vis is van die vishandelaars aangekoop terwyl die vleis en meel uit eie voorraad aangevul was.  Die dorp het daardie tyd ook twee laerskole gehad.  Een vir die blanke kinders en die ander een vir kleurling kinders.  Die hoof van die blanke skool was mnr Olivier.  Hy was bygestaan deur sy dogter wat as onderwyseres opgetree het.

 

 

 

 

Comments are closed.